Die moeilikste tye in jou lewe berei jou dikwels voor vir die grootste oomblikke in jou lewe. Hou dus goeie moed!
Dis Sondagoggend, die laaste dag van ons spanbou. Ons hardloop gou ons laaste draaie. Ek was my hande. Ek hoor ‘n geluid soos iemand wat val agter die toiletdeur, gevolg deur ‘n benoude gil: “agge nee!” Binne sekondes is ek voor die deur en roep benoud: “maak oop die deur”.
Dis stil, ek gil weer. Die deur gaan oop. Dis net bloed. Bloed op die vloer, bloed op die toilet, en bloed wat vloei uit die linkerhand. “Ek wil sien, ek wil alles sien. Vat weg die toiletpapier, Antoinette ek wil sien.” Oh man, ‘n diep snywond van ongeveer drie sentimeter wat gaap in die binnekant van die hand. Die bloed pomp soos ‘n fonteintjie daaruit. Die pinkie is lui, dit werk nie saam nie.
Ek skreeu soos ‘n maervark vir ons kollega, Rynhard; “‘n drukverband, asseblief en gou! Die teerpad Pretoria toe krimp merkwaardig vinnig. Negentig minute later sê die dokter die tendon, senuwee en ligament is af en die been in die hand gekraak. Dis tyd vir teaterklere. Vyf dae daarna ‘n tweede operasie. Agt dae later op pad huis toe na ‘n sessie by die arbeidsterapeut sê my vriendin, die een met die hand: “so word daar daagliks met sorg aandag gegee aan die uiterlike wonde van mense, maar wat van hulle wie innerlik bloei, daar waar die oog nie kan sien nie?”
Mmm, dis waar dink ek. Diepe emosionele wonde in die gange van menseharte! Ons moenie toelaat dat wonde van die verlede ons toekoms beïnvloed nie. Ons kan tog niks daaraan verander nie, behalwe daaruit te leer. Ons moet dit laat gaan anders sal dit ons vergiftig en uiteindelik vernietig.
As daar na emosionele pyn met soveel sorg gekyk sou word soos na gapende wonde sou die samelewing vir ons minder
gebroke mense opgelewer het wat soms aanhoudend verkeerde besluite neem. Hoe lyk die emosionele wonde in jou lewe?
“Die Here is naby dié wat hartseer is, Hy help hulle wat geestelik stukkend is.”
Ps. 34:19 (NLV)







