Blom jy nog daar waar jy geplant is? Ja, ek weet dit is ’n cliché, maar ek hou baie van hierdie woorde wat ons almal aanmoedig om ons roepings ongeag ons omstandighede uit te leef.
As ’n mens wil wag totdat jy in die spreekwoordelike perfekte bedding is voordat jy ’n volkleur lewe leef, gaan jy wegkwyn. Jy sal nooit by God se droom vir jou uitkom as jy ’n lysie met vereistes het hoe jou lewe moet lyk, voordat jy gaan groei en ontwikkel nie.
Maar dis nou die ding, nè: Ons almal voel partykeer of ons probleme en uitdagings net te groot en te oorweldigend is. Dan voel dit of ons versmoor en verstaan ons opeens hoekom party plante so sukkel om te midde van onkruid te groei. En die dekselse onkruid floreer!
Dalk is dit tyd dat jy jou verhoudings ondersoek. Dalk is dit tyd dat jy jou snoeiskêr nadertrek en seker maak jy het genoeg ruimte om die beste jy te wees wie jy kan wees, daar in jou hoekie in God se groot blomtuin.
Stel ’n katalogus saam oor al jou konneksies
Soos alle tuinwerk gaan dit energie en tyd van jou vra, maar gaan maak drie lysies vir die mense en verhoudings in jou lewe:
- Wie is die destruktiewes wat jy moet afsny omdat hulle vir jou en jou pad vorentoe nadelig is?
- Watter verhoudings is die grensgevalle waaraan jy moet werk en verander?
- Wie is die goeies wat jou nader aan God en jou doelwitte bring? Hulle moet jy behou en in sommige gevalle uitbou en meer plek in jou lewe gee.
Romeine 12:2 bly een van my gunstelingtekste wanneer ek deur hierdie oefening gaan. In die 2020-vertaling staan daar: “Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”
Daar is dus drie kernpunte om te onthou en hulle is ook van toepassing op jou hantering van jou konneksies met mense:
- Nuwe denke
- Onderskeidingsvermoë
- Die wil van God vir jou lewe
Die pynlike proses om sekere verhoudings te beëindig
Wees eerlik: Soms klou ’n mens aan uitgediende gewoontes vas en behou jy maar kontak met mense, al is hulle giftig vir jou selfbeeld of waardes. Soms behou jy ter wille van die vrede sekere maniere van dink en doen wat eenvoudig nie meer vir jou goed is of jou laat groei nie.
Soms is daar verhoudings of vriendskappe wat jou ’n knop op die maag gee en wat jy uit skuldgevoel in stand hou, terwyl dit glad nie vir jou of die ander persoon gesond is nie. Dis asof julle mekaar gevange hou sodat nie een van julle kan aanbeweeg nie.
Dis vir seker nie maklik om bande te breek nie, al is jy oortuig dis binne God se wil vir jou. Jy gaan dapper en vasberade moet wees. Jy gaan mooi moet dink hoe jy dit gaan doen, want al is jou doel om jou eie groei te bevorder, is dit geen verskoning om iemand anders te knak nie.
Herdefinieer sekere verhoudings en stel nuwe grense
Soms is dit nie nodig om ’n verhouding af te sny nie, maar kan jy dit net ’n bietjie snoei deur nuwe grense vir jouself en die verhouding te stel. Dieselfde snoeiwerk geld vir jou gedagtes en optrede:
- Hoe kan jy met meer empatie met mense kommunikeer?
- Hoe kan jy jou beskouings oor jou behoeftes en dié van ander mense hersien?
- Ken en verstaan jy jou eie temperament en hierdie mense s’n?
- Het julle ruimte vir mekaar se sterk- en swakpunte?
- Wat is jou bydrae tot jou eie groei en wat is jou bydrae om verhoudings gesond te hou?
Soms is dit nodig om jou doelwitte vir en definisies van gelukkige verhoudings aan te pas. Meet dit gereeld aan Romeine 12:2 en kyk of jy nie dalk van rigting moet verander of jou koers effens moet aanpas nie.
Onthou ook dat om te blom, om hoogtepunte en sukses te ervaar, nie noodwendig iets is wat ander mense raaksien nie. Elke oorwinning wat jy oor jouself behaal is ’n nuwe blomblaar of ’n nuwe wortel wat jou stewiger in jou bedding anker.
As jy met geduld of wysheid optree, nie jou humeur verloor nie, iemand vergewe, opstaan na ’n groot teleurstelling of genade aangee in ’n krisis, versprei jy die lieflike geur van Christus. En jy doen dit saam met al die ander blommende, florerende plante in Sy koninkryk.







